"Daar was monsters in die donker..."
- diedromer
- May 17, 2019
- 6 min read
In 2007 het jy ‘n tweede keer vir my in my drome kom kuier. Dit was ‘n vreemde ervaring wat my teruggeneem het na my dae as klein dogtertjie in die koshuis.
Mag die lig jou vind.
(1988-2006)
‘n Klein, angsbevange 6-jarige dogtertjie het hand-aan-hand ,saam met haar ma, Huis Müller se gange binnegeloop.
“Is hierdie ‘n koshuis, Mamma?” het klein Inge saggies gefluister.
As klein kindjie was die koshuis ‘n vreemde, vreesaanjaende plek, baie soos die lewe wanneer ‘n mens ouer word. Opgesluit in die koue gangmure was onbekendheid, maar ook ‘n misterie. Dit was asof elke onbekende vertrek oorgeloop het met verhale en geheime wat jy as kind nog nie verstaan het nie, maar ook ‘n tasbare opwinding oor alles wat jy moontlik nog gaan ontdek.
My ma, met ‘n gesig vol kommer omdat sy haar weerlose dogtertjie moet vrylaat in die lewe, het net geantwoord: “Ja, Inge. Dit is jou koshuis.”
“Nou hoekom lyk dit dan soos ‘n tronk?” wou ek graag weet.
Die kilheid en vreemdheid kon enige kind oortuig dat hulle sopas die selle betree het om hul vonnis uit te dien, maar ‘n koshuis was nooit vir my net ‘n gebou nie. Dit was ook die mense wat saam met my moes woon. Die ander kindertjies, kamermaats, kamerade.
Die koshuis was vir ons meer as net ‘n plek. Dit was ‘n gevoel, ‘n kameraadskap. En as gevolg dáárvan het hierdie koue gebou enigiets geword wat ons wou hê dit moet wees. Dit was ‘n palleis waar klein prinsesse rondhardloop. Dit was ‘n hekshuis waar jong heksies brousels maak. Dit was ‘n vulkaan waar lava-dogtertjies ronddans. Dit was ‘n gebou waarin die moontlikheid van drome en verbeeldingsvlugte toegesluit was en ons kon daardie diep verbeeldingsput tot vervelens toe leeg tap en die koue mure in kleur laat dans.
Die koshuis, met al sy wonders, is waar my drome en verbeelding vlerke gekry het. My gedagtes kon verdwaal in al die moontlikhede en ek en my ses maatjies kon soos sewe dwergies aand na aand, in ons klein ysterbedjies, mekaar vermaak met opgemaakte storietjies oor ridders op wit perde tot ons ogies toe val. Ons was nog kinders met onskuldige verbeeldingsvlugte wat geglo het in die mooi van die lewe en dat gevaarlike dinge net in die donker skuil.
Huis Müller was sowaar vir my ‘n wonderlike plek, maar wanneer die donker stilte in die aand deur die gange begin kruip het, en ons kleintjies moes bed toe gaan, het my gedagtes weggedwaal van mooi beelde en kop eerste in die nagmerrie-waters ingeduik. Die gange was dan pikdonker en ek kon my verbeel hoe klein gedroggies met rooi oë op en af in die gang kerjakker en histeries vir my lag en my probeer koggel. Ek sou my kombers bo-oor my kop trek (want dit sal jou mós beskerm) en bid dat ek tog asseblief nie ‘n piepie moet kry nie, want…
Een van die vreesaanjaendste ervarings vir my was om in die aand badkamer toe te loop. Af in daardie pikgitswart gang, waar ek seker was monsters vir my lê en wag.
Al die ligte van die gang was af, behalwe vir die skrefie lig wat onderdeur die eetsaal se deur geskyn het. Dit was gewoonlik studeertyd vir die Hoërskool meisies en ons kleingoed moes saggies in ons beddens slaap. Agter daardie deur was ‘n wêreld wat ons nie na ligte-uit mag betree het nie en ek het altyd gewonder wat doen hulle aan die anderkant. Ek het geweet as ek net tot by daardie deur kan hardloop en dit oopmaak sal daar genoeg lig die gang inspoel en al die gediertes verdryf. Maar ek was altyd te bangbroek om daardie swaar swaaideure oop te stoot...
Elke keer as ek wakker sou word met ‘n dringende nood en die donkergang moes aandurf was daardie skrefie lig onder die verbode deur my enigste leiding tot by die groot gemeenskaplike badkamer. Ek sou my oë vasgenael daarop hou en in my hart glo dat daardie klein bietjie lig alle slegte dinge wat in die duister wegkruip sal verdryf. Daardie lig wat onderdeur die deur geskyn het was my lig in die donker, die teken dat daar steeds lewe in hierdie groot kasarm van ‘n gebou was.
Die donkergang het altyd ekstra lank gevoel soos my voetjies tree vir tree die koue gang afbeweeg het. So baie gerusstelling soos die lig my gebied het was ek ook aan die anderkant bevrees vir die oopswaai van daardie deure, want daar sou groot moeilikheid wees as ek buite my bed betrap word.
Dis snaaks om terug te dink aan toe ‘n mens klein was. Hoe die lewe so klein was. Hoe ons so maklik in mooi sprokies kon glo, maar ook hoe bang die donker ‘n mens kon maak. Hoe bang ‘n mens vir monsters en spoke kon wees, min wetend dat die regte donkerte in die lewe veel erger is as wat ‘n klein kindjie kan opdis.
Jare later, toe ek deel was van die Hoërskool meisies aan die anderkant van die saaldeur, toe die misterie van hierdie lig en die swaaideur verby was, toe ek nie meer in spoke of monsters geglo het nie, toe die yskoue realiteit van die lewe my laat besef het dat monsters hulself eintlik as die dood vermom, het ek een aand gedroom…
Hoe lank dit was na die donker stilte van jou dood sal ek nooit presies onthou nie, maar wat ek wel kan onthou is hoe ek daardie aand my kop op my kussing laat sak het en weggereis het droomland toe…
Die gang om my is pikgitdonker. My hart klop hoorbaar in my keel en ek weet ek moet uit hierdie donkerte ontsnap. Ek gee my eerste tree. Die vloer voel yskoud onder my voete, nee wag, voetjies. Ek besef skielik ek is weer klein en met daardie besef rek die lang donkergang skielik en voel die donkerte oorweldigend groot. ‘n Ou bekende vrees pak my beet. Die gang strek voor my uit soos ‘n vreemde donkerlandskap en ek kan reeds sien hoe die monsters teen die mure begin beweeg. Ek begin hardloop. Ek wil nie klein wees nie. Ek wil nie meer bang wees nie. Ek hardloop en hardloop, maar die gang raak langer en langer. My asem jaag en my voete brand van die koue vloer. My klein lyfie buk vooroor om asem te skep en toe ek opkom sien ek dit…die deur. Die groot swaaideur van die saal met sy skrefie lig wat stil vir my lê en loer. Ek wil deur die deur beweeg, want ek weet al my hoërskoolvriende is aan die anderkant en miskien sal ek dan nie meer klein wees nie, maar iets hou my terug. ‘n Ou bekende kinderlike vrees vir die onbekende agter die deur. Ek staan op die koue vloer en is skielik weer sesjaar oud en te bang om uit te vind wat aan die anderkant aangaan. Dit voel soos ‘n ewigheid wat ek en die deur net na mekaar staar en die monsters om my saamdrom. En toe, uit die bloute, gaan die deur met ‘n slag oop.
Al wat ek sien is ‘n verblindende lig. Ek probeer myself van die helderheid wegskerm, maar voor ek dit kan doen sien ek ‘n donker figuur vanuit die lig beweeg. Die figuur word groter en groter en groter. My klein dogtertjie lyfie bewe van kop tot tone, maar omdraai kan ek nie…toe staan jy voor my, lewensgroot, met daardie selfs groter glimlag. Ek steek my handjie uit om aan jou te vat, maar die donkerte suig my weg en skielik skrik ek wakker…
Soos dit mos maar is met drome…en die lewe…so skielik en vinnig verby.
Liefste neef W,
Vandag, 13 jaar later, kan ek steeds nie daardie droom verklaar nie. Net soos die eerste een was dit so werklik, asof jy regtig daar was, so naby, so tasbaar. Miskien wou jy vir my wys jy is in ‘n plek omring met lig waar jy nooit weer die donkerte, vrese en seer van die lewe hoef te ervaar nie. Miskien wou jy vir my wys dat ek nooit weer alleen in hierdie donkerte sal wees nie. Miskien was jou teenwoordigheid vir my ‘n lig in hierdie lewe en het ek daardie aand dalk nes ‘n klein kindjie na daardie veiligheid en leiding gesmag. Al wat ek met sekerheid weet is dat ek steeds jou elke dag saam met my dra, ingegraveer in my vel, daardie wete dat die lewe soms soos ‘n ellelange donkergang voel, maar daar is altyd lig wat wag aan die einde. Daar is hoop…ons moet net wag vir die deur om oop te gaan.
Comentarios