Meer as net 'n weense worsie
- diedromer
- Apr 12, 2021
- 7 min read

“Mamma, ek is honger.”
Die woonsteldeur was skaars toe agter my toe my oudste, Wilmien, my reeds bestook met, in my oë, ‘n reuse versoek. Dit was ‘n lang dag by die skool en ek wil net vir twee sekondes asemhaal voor ek met my stapels merkwerk moet begin.
“Dis reg liefie. Laat mamma net eers haar sakke…Eina! Marie, hoeveel keer moet mamma sê dat jy asseblief nie aan my hare moet trek nie? Dit maak seer, skattebol.”
Marie en Wilmien is net twee jaar uit mekaar. Een in die sogenaamde terrible twos fase en die ander, wel, kom ons noem dit maar eerder net die “fokking” fours.
“Maar ek is nou honger! Ek is nou honger!” skree Wilmien.
Here, help my. My moeë liggaam het nie die krag of die geduld vir ‘n vloermoer nie. Asof sy my gedagtes kan lees val Wilmien plat op die vloer en begin skop en skree soos die besete varke in die Bybel. Net jammer hier is nie ‘n afgrond naby nie. Vir my natuurlik, nie vir die varkie op die vloer nie.
“EK IS HOOOOONGER!” skop, skree, hare trek van Marie, skop, nog ‘n trek, skree, skop, trek, breekpunt!
“HOU ONMIDDELIK OP JOU KLEIN…”
“Kak!” sê Marie giggelend hardop vanaf my heup met steeds ‘n klos hare in die hand. Ek hang my kop in skaamte terwyl ek verstar in die voorportaal van die woonstel staan, ‘n matroos van ‘n tweejarige op die heup, ‘n besete vierjarige op die vloer en sakke vol merkwerk.
"Ma van die jaar." fluister die sarkastiese stem in my kop.
"Ek is nie ‘n slegte ma nie," antwoord ek terug.
Te danke aan Peppa Pig het Wilmien en Marie uiteindelik bedaar. Kom ons wees eerlik, ek is nie ‘n mommy blogger met oulike aktiwiteite vir die hele gesin nie. Ek is ‘n real ma wat soms die behoefte het dat my kinders net stil na ‘n TV sal staar sodat ek nie heeltemal my sinne verloor nie. Ja, ek voel soms skuldig, maar daardie skuldgevoel verdwyn vinnig wanneer hulle doodstil en oopmond voor die skerm sit en ek vir die eerste keer in die dag my eie gedagtes kan hoor.
Ek loop kombuis toe en maak die yskas oop. ‘n Redelike leë inhoud, besef ek met skok. F-f-f-f-f…Flip tog, (ek moet ophou vloek) ek het vergeet om inkopies te doen! Hopelik is hier iewers iets eetbaar wat ek binne 5 minute aanmekaar kan slaan.
"Ek is nie ‘n slegte ma nie," sê ek weer. "Ek het net ‘n slegte dag."
Ek hoor hoe lag Wilmien en Marie luidkeels in die sitkamer. Ek sug.
Ek is lief vir my kinders. Ek is, regtig. Maar soms raak die goedjies op ‘n ma se lysie meer en meer en die ure in die dag minder en minder en ‘n ma se geduld en humeur korter en korter. Ons is maar ook net mens, nie waar nie?
Ek sien die pakkie worsies op die boonste rak in die yskas. Ek glimlag. Wanneer laas, dink ek by myself. Ek haal die worsies, ‘n blok kaas en tamatiesous uit die yskas. Glad nie nutritional nie, ek moet bieg, maar ek weet immers dit proe lekker en dit sal die honger stil.
My neef, Werner, het as kind vir my en my sussie hierdie eenvoudige dis geleer.
“Righto my Nig! Kom ek wys vir jou die beste dis onder die son!”
Werner het werklik ‘n manier gehad om enigiets pret te maak.
“Maar dis dan net ‘n weense worsie?” Ek was verward. “Weet jy wat is alles daarin?”
“Glo my, koningskos.” Hy het geknipoog en begin werskaf. Ek het baie nuuskierig nader gestaan, want ek wou graag sien hoe iets, so eenvoudig soos ‘n worsie, wonderlik kan raak.
“So, jy sny eers die worsies asof dit ‘n worsbroodjie is.” Hy het met baie entoesiasme en dramatiese flair deur die worsies gesny.
“Dan volg die kaas. Hoekom?”
“Ek weet nie”, het ek steeds verward geantwoord.
“Want EK HOU VAN KAAS, BRA!!!”, het hy geesdriftig gegil terwyl ek skater van die lag.
Die kaas was dan in die kepe van die wors gedruk en in die mikrogolf geplaas.
“Laaste stap, die special ingredient.” Hy het sy groot skitterwit glimlag gegee, die tamatiesous geneem en dit met ‘n baie delikate aksie, worsbroodjie-styl, op elke worsie gegooi.
“Dis alles in die pols aksie, Nig. Mens soek nie ‘n dam tamatiesous nie. Die worsies kan nie swem nie.”
“Jy is stupid, Werner.”
“Sou iemand stupid ‘n meesterstuk kon uitdink?”, was sy antwoord. “Ek is die koning van koningskos, man!”
Ek glimlag. Ongelooflik hoe een dingetjie skielik die duidelikste herinneringe kan oproep. Ek het so lanklaas aan hom gedink. Ek begin met dieselfde entoesiasme deur die worsies voor my sny en kry sommer lag vir my onverwagse lawwigheid. Dis vir jou Werner! Selfs al is hy nie hier nie kan hy steeds my bui in ‘n japtrap verander.
Die enigste probleem was dat hy ook net so vinnig soos hy my kon laat lag, vir my kon omkrap. Hy was twee jaar ouer as ek, ‘n ouer broer in my oë. Hy het werklik die kuns van terg vervolmaak.
“Mammaaaaa! Marie trek my hare!” skree Wilmien skielik vanuit die sitkamer. Ek sluit my oë. Waar sal my hulp vandaan kom?
“Maar Ouma, hy het tamatiesous in my hare gesmeer!”
Ek het altyd by my ouma oor sy gedrag gekla.
“Dis omdat hy lief is vir jou”, sou my ouma dan saggies troos.
Ek het dit nooit verstaan nie. Nou, soveel jare later, verstaan ek eers.
“Jou sussie soek net jou aandag, Wilmien”, roep ek terug. “Gee vir haar ‘n drukkie.”
Werner was die enigste seun van my ma se broer. Sy ouers het geskei toe hy baie klein was. Hy het by sy ma gewoon, nie ver van ons af nie. Ek kan nie regtig veel van die tannie onthou nie. Ek weet sy was baie maer, het vreeslike blou eyeshadow gedra en het altyd vir my en my sussie geskenkies gegee as ons vir Werner gaan haal het. Ek kan ook onthou dat niemand in ons familie gaande was oor haar nie. Dít sou ek ook eers later verstaan.
Hy het altyd gedurende die Desember vakansies by ons op die plaas kom kuier voordat ons almal dan saam see toe is. My oom het in ‘n ander provinsie gewoon en die groot familie saamtrek by die see was die enigste tyd wat Werner sy pa kon sien.
Ek wou eendag by my ma weet hoekom Werner dan nooit by sy pa gaan woon het as hy so ongelukkig by sy ma was nie. Wou sy pa hom dan nie hê nie? My ma het baie hartseer gelyk en net gesê dat sy pa bitter lief was vir hom, maar dat dinge nie altyd so eenvoudig is nie. Later daardie dag het ek haar saggies in haar kamer hoor huil.
Ek het nooit toe ek jonger was regtig oor Werner se gesinslewe gewonder nie. Ek dink dis omdat hy so ‘n lewendige kind met ‘n permanente glimlag was. Dit het nooit vir my gelyk asof enigiets hom pla nie. Almal om hom het altyd gelag. Hy was net een van daardie mense wat gelyk het of hy die lewe sommer so in sy stride vat.
Ek het onlangs in ‘n tydskrif gelees dat dit eintlik die gelukkigste mense is oor wie jy jou moet bekommer. Ek wens ek het dit vroeër geweet.
Ek kyk na die twee bordjies met ala Werner wat voor my op die toonbank staan. Ek sny vir my die gebruiklike hoekie van Marie s’n af en druk dit in my mond. Ek maak my oë toe terwyl ek kou. Die bekende smaak laat sit skielik die huil vlak in my keel. Ek verloor myself vir ‘n oomblik in die verlange.
Werner is oorlede toe hy 18 jaar oud was. Sy ma het hom in sy kamer in hulle bitter klein woonstel bokant die dorp se Wimpy gevind…
“Raai wat, Mamma?” sê Wilmien skielik baie opgewonde agter my. Ek vee vinnig my trane af en draai met ‘n glimlag om.
“Ek weet nie, Liefie. Sê my.”
Sy hardloop en vou haar klein armpies om my middel. Haar gesiggie met daardie bekende skitterwit glimlag staar op na my.
“Ek wou net sê Mamma is die beste Mamma in die hele wêreld. Ons is jammer dat ons stout was. Mamma moenie hartseer wees nie.” Sy giggel en hardloop weer sitkamer toe.
Ek probeer die snik wat by my keel wil uitglip met ‘n hand bo-oor my mond keer.
Na my egskeiding het ek vreeslik gehuil. Ek was so alleen en bang. Ek wou nie my kinders faal nie. Ek wou nie hê dat hulle ooit voor ‘n leë yskas in ‘n leë woonstel moes staan nie.
“Immers kan die Wimpy se reuke jou honger stil!”
Dis een van vele woorde wat in Werner se rigting geslinger was. Pynlike woorde wat ons eers na sy dood in ‘n brief ontdek het. My ma, my ouma en my oom het almal geweet iets was verkeerd, maar Werner het nooit daaroor gepraat nie. Ek dink ten spyte van alles was hy tog onvoorwaardelik lief vir sy ma. Ek dink hy het gevoel dat sy tog op haar manier haar bes probeer het. Ek glo hy het gedink dat as hy sy pa sou kies dit sy ma se hart sou breek. Geen kind wil opsetlik hulle ma se hart breek nie en elke ma wil glo hulle is die beste ma in die wêreld vir hulle kinders.
So, hy het voorgegee. Hy het die eenvoudigste dinge in groot vreugdes verander. Die tipe mens wat jou kon laat glo dat ‘n nederige weense worsie soveel meer is. Dit was wie hy was. Dit was wie hy nodig gehad het om te wees, tot hy nie meer kon nie.
Ek ruk myself vinnig reg, neem die twee bordjies en kondig met groot dramatiese flair aan:
“Mademoiselles! Maak gereed vir die beste dis in die wêreld!”
My kinders begin opgewonde gil en jil vanuit die sitkamer. Ek neem stelling in tussen die twee, net soos Werner ingenome tussen my en my sussie gesit het. Ek kyk met ‘n warm hart hoe hulle lustig smul. Een na die ander kry ek ‘n tamatiesous soen op die wang. Ek sluit my oë. Ek glimlag. Ek is nie ‘n slegte ma nie. Dit was maar net ‘n slegte dag.
Ek sien vir Werner voor my staan in ‘n leë kombuis van ‘n klein en eenvoudige woonstel.
‘n Trotse skitterwit glimlag op sy gesig terwyl hy staar na sy meesterstuk.
Comments