Heuwels soos wit olifante
- diedromer
- Jul 29, 2019
- 11 min read
Hierdie is die heel eerste opdrag wat ek moes voltooi vir 'n skryfkursus waarmee ek besig is...ek moes Ernest Hemingway se Hills like white elephants voltooi sonder om die oorspronklike storie te lees...hierdie is my weergawe van gebeure.
Die heuwels oor die Ebro Vallei is lank en wit. Daar is geen skaduwee of bome aan hierdie kant nie en die stasie is in die son geleë tussen twee stelle treinspore. Styf teen die stasie is die warm skaduwee van die gebou en 'n gordyn gemaak uit stringe bamboeskoppe hang voor die oop deur van die kroeg om die vlieë buite te hou. Die Amerikaner en die meisie by hom sit buite in die skaduwee by 'n tafel. Dit is baie warm en die trein uit Barcelona sal oor 40 minute arriveer. Dit stop hier vir 2 minute voor dit na Madrid vertrek.
Die Amerikaner sit en staar na die meisie oorkant hom. Haar lang donker hare hang oor haar skouer en bons op en af soos sy lag. Haar oë maak klein lagplooitjies in die hoeke. Sy glimlag skaam en laat haar kop na die kant toe kantel soekende na ‘n antwoord op sy stilte. Die kelner kom na hulle tafel toe.
"Sangria, por favor. Twee glase," antwoord die Amerikaner. Die meisie raak liggies aan sy bo-arm.
"Estás bien?"
Hy sit net sprakeloos en kyk na hierdie rare vrou. Die wit tea dress hang sag teen haar bruingebrande vel en die lae v-nek hals trek sy aandag na die ligte persperasie wat tussen die rondings van haar borste gevorm het. Hy probeer elke kurwe en beweging van haar lyf inneem. Haar skoonheid laat hom steeds net soos daardie eerste keer vir 'n paar sekondes ophou asemhaal.
"Sí. Ek dink maar net aan ons ontmoeting."
Hy het Spanje toe gekom om Fiestas del Pilar in die stad, Zaragoza, te beleef. Hy weet nie hoekom hy dit spesifiek gekies het nie. Miskien het hy gedink die religieuse element sal hom help moed skep vir die familie besigheid of help om homself weer te vind. Óf dit was heeltyd reeds deur die noodlot bestem. Al wat hy weet is binne 'n kwessie van dae was sy toer Spanje toe gereël. 'n Volle week in die Ebro Vallei. Noem dit maar sy eie pelgrimsreis as jy wil.
Alles het goed afgeloop totdat die ou Ford Model T, wat hy by die hotel eienaar geleen het, besluit het om in die middel van nêrens met net klipperige heuwels as geselskap die gees te gee.
__________________________________________________________________________________
"Vervlaks!" skop hy die kar. Het Spanjaarde nog nie gehoor van die 1937 opgradering nie? Asof die motor sy belediging kon hoor gee dit 'n laaste kreun gevolg deur 'n rookwalm uit die enjinkap. Hy onthou dat hy seker so 10 myl terug verby 'n appelboord gery het. Dit behoort tog sekerlik aan iemand. Miskien sal hy daar hulp vind. Hopelik praat die mense darm 'n bietjie Engels. Die son bak oor sy hele lyf. Hy trek sy baadjie uit, rol die moue van sy ligblou knopies hemp op, neem sy knapsak met 'n paar benodighede en besluit om die pad te vat.
'n Effense sweet en baie stof later, bereik hy uiteindelik die boord. 'n Ligte wind het opgesteek wat die sweet op sy rug heerlik verkoel. En asof die wind self nie genoeg saligheid bring nie waai dit ook ‘n figuur in ‘n olyfgroen somersrok saam met blare in die paadjie af. Hy trek sy oë op skrefies om beter te kan sien. Vanuit die glans van die son maak sy oë skielik kennis met oë van die diepste bruin.
"¿Te puedo ayudar?" vra die vroulike stem. Hy probeer homself en sy bietjie kennis van Spaans bymekaar skraap.
"Uuuhm...¿Hablas inglés?" stamel hy. 'n Geintriseerde glimlag vorm in die vrou voor hom se mondhoeke.
"Jy bevind jouself ver van jou huis af..." sê sy geammuseerd. Sy aksent kon dus nie baie subtiel wees nie, dink hy. Sy steek haar hand uit. "Catalina."
"Edward." Hy neem haar hand. Dit is slank, sag en koel in syne en hy hou dit per ongeluk net 'n bietjie te lank vas. Hy laat skielik haar hand gaan en begin rammel die een woord na die ander af.
"Kar...my...die kar wat ek leen..dit rook. Ek bedoel..." hy maak keel skoon.
"My kar wat ek leen het gebreek." 'n Onverwagse skaamte oorval hom. Catalina begin skielik lag en in daardie oomblik is al wat hy kan dink dat hy nie waardig genoeg is om in hierdie skoonheid se teenwoordigheid te wees nie.
__________________________________________________________________________________
Die kelner het ‘n groot beker Sangria voor hulle neergesit.
“Gracias.”
Die koue vogtigheid het rondom die beker saamgepak. Die meisie vou haar hande om die beker om die hitte wat in haar opbou te keer. Hierdie man uit die vreemde wat voor haar sit het soos ‘n warrelwind oor haar pad gekom en na daardie vlugtige kennismaking in die boord was dit asof sy net instinktief geweet het dat haar lewe nie weer dieselfde gaan wees nie.
Sy steek haar koel hand uit en streel met die agterkant van haar wysvinger liggies oor sy wang. Sy ligblou oë verdonker en sy sien hoe haar aanraking ‘n ligte blos op sy reeds warm wange bring. Die Amerikaner met sy blonde hare wat altyd woes bo-op sy kop staan het werklik haar lewe op die beste moontlike manier kom omdolwe.
__________________________________________________________________________________
Hierdie man lyk soos ‘n vis uit die water hier tussen haar appelbome. Catalina kan nie help om te lag nie. So ‘n kontras, die voorkoms van ‘n professor maar die verbale vermoë van ‘n doofstomme. Dit was nie moeilik om te besef dat haar verskyning hom onkant gevang het nie en sy moet bieg…hierdie vreemdeling met sy diep stem het ook iets liggies binne haar laat beweeg.
“Ons huis is net ‘n entjie op in die pad. Wil jy dalk saamkom? Dan kan jy daar vir hulp bel? Ek kan nie belowe dat enigiets vinnig gaan gebeur nie. Dit vat gewoonlik ‘n ruk om enige parte aan hierdie kant van die vallei te kry, maar jy is welkom om by ons tuis te gaan tot dan.”
Met die aanhoor van die uitnodiging kon sy die dankbaarheid op sy geswete gelaat opmerk.
“Gracias, Catalina. Ek sal dit baie waardeer…uhm…ons? Bedoel jy, jy en jou man?”
Sy kon nie help om weer te lag nie.
“Ek en my pa,” antwoord sy. Hierdie man het duidelik nie die talent om sy emosies diskreet te hou nie. Dit is nogal vleiend om te weet dat sy so ‘n onmiddelike uitwerking op ‘n aantreklike man kan hê en haar gevoel is dieselfde, sy steek dit maar net beter weg en boon-op wys ‘n blos nie so maklik op blas wange nie. Dankie tog vir klein seëninge.
“Aquí! Jy lyk of jy dit nodig het.” Sy gooi vir hom ‘n appel uit haar mandjie. “Volg my.”
__________________________________________________________________________________
Die verfrissende smaak van die Sangria, die vallei as agtergrond en die amper verblindende skoonheid van die vrou hier oorkant hom is die perfekte samevatting van sy onverwagse week in die Ebro. Hy wens hy kon haar vir die res van sy lewe deur berge en dale volg. Hy wens hy kon hier bly, maar 30 minute is al wat die lewe nou vir hulle oor het. Hy moet terug na sy verantwoordelikhede en sy moet terug na hare. Hulle is nie meer kinders wat net roekeloos hul passies kan volg nie en miskien as dinge vir hulle beskore is sal hul paaie weer eendag kruis.
__________________________________________________________________________________
Die huis was ‘n klein villa teen ‘n heuwel. Edward vergaap homself aan die landskap voor hom. Daar was rankplante wat teen die geel mure reis en die klip oprit was omring met pragtige bougainvillas. Dit was ‘n klein eutopia wat sy plek volstaan tussen die statige heuwels en valleie van die distrik. Hoe gelukkig kan ‘n mens wees om hierdie plek jou tuiste te kan noem? Geen geraas van motors nie. Geen stedelike geboue wat elke hoek en draai volstaan nie. Net vrede, stilte en skoonheid…en dankie tog, ‘n bietjie skaduwee.
“Versigtig. Daardie happie appel gaan uit jou mond val.”
Hy besef nou eers dat hy soos ‘n aap met sy mond oop staan. Catalina kom staan by hom. Naby genoeg dat hy die sonskyn en die reuk van die boord op haar vel en hare kan ruik, maar ver genoeg soos dit ‘n vreemdeling betaam. Vader behoed my, dink hy. Hierdie vrou wat hy ‘n skamele 20 minute ken laat voel hom reeds dinge wat hy nog nooit in sy lewe gevoel het nie.
“Kom. Papá wonder seker al waar ek draai. Daar is lekker vars Sangria binne. Jy drink seker Sangria?”
Catalina begin teen die oprit oploop. Edward kyk vir ‘n sekonde haar agterna, ‘n visioen tussen die heuwels. Hy neem ‘n foto in sy geheue sodat hy hierdie herinnering saam met hom kan huis toe neem.
__________________________________________________________________________________
Die trein arriveer oor 20 min. Net 20 minute? Waarheen het die tyd gegaan? Sy het nog so baie wat sy vir hierdie man voor haar wil sê. So baie wat sy nog saam met hom wil doen. Sy sien hoe ‘n klein frons tussen sy oë verskyn. Sy kan sy vermoeidheid so maklik op sy gesig lees. Sy wil vir hom sê om te bly, maar sy kan nie haar hart, soos hy, op haar mou dra nie. Haar oë gly oor sy lyf. Die sterk nek wat in breë skouers invloei, die beweging van die adamsappel soos hy sluk. Die ligte sweet wat in die holte bo sy bors vorm, daar waar sy so graag haar ken wil rus. Sy sukkel skielik om die stukkies appel in haar drankie af te sluk.
‘n Week. Dis hoe lank dit geneem het vir die Ford parte om te kom en hoe kort dit vir Edward geneem het om haar hart heeltemal syne te maak. Daardie eerste aand op die villa se stoep gevul met die naggeluide uit die Ebro en hulle stemme wat lag en gesels. Dit was ‘n aand van verkenning wat die soet smaak van appel en wyn vir lank op haar lippe laat bly het. Diep weggebêre tussen die groot heuwels het hulle mekaar so maklik leer ken. Sy dink aan hoe daar hierdie onmiddelike vertroue en gemak was. Asof hulle al ‘n leeftyd vriende is. Sy onthou hoe hy haar vertel het van sy broer se dood en die skielike oorneem van die familie besigheid. Dat hy sy soeke na iets meer moes prysgee, maar dat sy pa toegelaat het dat sy “wilde kind” een laaste avontuur ervaar.
Op haar beurt het sy weer vir hom vertel van haar ma se afsterwe met haar geboorte. Haar drome om ‘n kunstenaar te word. Maar haar Papá se aaklige siekte wat haar terug huiswaarts laat keer het. Ja, dink sy, terwyl sy die stukkies appel met nog ‘n slukkie sangria probeer afsluk, die eerste aand reeds het hulle as vreemdelinge lewens uitgeruil en as iets meer as vriende daardie stoep verlaat. Sy wéét dat beide van hulle daardie aand na hul kamers gegaan het met die wete dat dit die begin was van iets wat nie een van hulle kon keer nie en iets waaruit nie een van hulle heel sou uitstap nie.
__________________________________________________________________________________
Hy is al vir vier dae by Catalina en haar pa aan huis. Vier dae van absolute vrede en nuut gevonde vreugde. Dis asof hy duisende kilometers ver gereis het om ‘n deel van homself hier in ‘n vreemde land te kom vind. Hy en Catalina was besig met een van hul wandelinge. Die gesels tussen hulle twee hou nooit op nie. Deur die dag, wanneer haar pa slaap, verken hulle die vallei in al sy prag en saans sit hulle saam op die stoep en gesels amper tot sonsopkoms. Die skoonheid word soms kortstondig onderbeek deur haar pa se siekte. Blykbaar ALS. Redelik gevorder. Catalina moes haar lewe in Zaragoza prysgee. Sy het gisteraand saggies in sy arms gehuil nadat sy haar pa in die bed gaan sit het, maar hier waar hulle nou deur die boord stap en appels pluk is daar geen teken van gisteraand se broosheid nie. Dis weer weggepak saam met die donkerte van die aand.
Dit verstom hom steeds hoe hierdie vrou wat so sag voorkom terselfdertyd hierdie diepe sterkte binne haar dra, hoe sy haar emosies so maklik kan beheer. Hy aan die anderkant is hopeloos voor haar. Haar teenwoordigheid, veral so naby soos gisteraand, laat elke emosie oral by sy lyf uitlek. Haar snikkende lyf in sy arms het ‘n verlatenheid in hom wakker gemaak. Skielik het hy besef dat hy in ‘n paar dae van haar moet afskeid neem. Daardie gedagte het soos ‘n kanker huisvesting in sy gees geneem.
__________________________________________________________________________________
10 minute voor die trein arriveer. Hy voel skielik haar arms wat hom van agteraf omhels. Hy was so vasgevang in sy gedagtes dat hy nie eens agtergekom het dat sy van haar stoel af opgestaan het nie. Sy glip in een beweging om en neem stelling in op sy skoot. Haar arms steeds om sy nek gevou. Hy sien hoe begeerte in die donker waters van haar oë kabbel. Hy gee nie eens om oor die ander mense in die restaurant nie. Hy vou beide sy hande in haar hare en trek haar gesig nader aan syne. “Edward…” fluister sy sag. Net die manier wat sy, sy naam sê, die rol van die “r”, bring daardie oorspronklike vloed van begeerte terug…
__________________________________________________________________________________
“Waaraan dink jy so diep?” Sy het omgedraai na hom toe terwyl die son die mooiste blinkertjies in haar donker hare maak. Sonder om te dink tree hy nader. Al wat hulle gesigte van mekaar skei is ‘n sonstraal wat die troebel water in haar oë laat roer. Hy kan homself skielik nie keer nie. Sy hand krul in haar hare in en hy sien hoe haar lippe liggies oopgaan. Hierdie keer is dit sy wat nader kom. Hulle lippe ontmoet. Dis die samesmelting van begeerte en passie, maar ook ‘n desperaatheid om fisies aan hierdie oomblik vas te klou. Net daar tussen die heuwels en bome het hy, soos Adam, van die verbode vrug geëet en sy, soos Eva, ingegee, maar dit wat daar tussen hulle plaasgevind het sou geen mens as sonde beskryf nie. Dit was liefde. Hulle het vir mekaar liefde oor en weer gegee tot nie een meer kon nie en die laaste bietjie asem saam in ‘n klimaks deur die Ebro ge-eggo het.
Vir ‘n oomblik het hul altwee net naak bo-op hul klere in die paadjie bly lê. Catalina kom stadig half orent. Haar hare kantel oor haar skouer en vir die eerste keer sien hy die weerloosheid in haar gesig. Met sy een hand volg hy die rondings van haar bors af teen haar lyf waar klein sweet straaltjies oral gevorm het. Sy neem weer op haar beurt haar vinger en volg die buitelyne van sy klam gesig. Hoe kan twee mense in een oomblik so gelukkig, maar ook so hartseer wees.
“Sit net so!” sê Edward skielik. Hy spring op en loop na waar sy knapsak onder ‘n boompie lê.
“Waarmee is jy besig?” vra sy giggelend.
“Ek wil vir jou iets wys.” Hy bring ‘n Vest Pocket Kodak tot verskyning.
“Sit net so. Hierdie oomblik moet onthou word.”
__________________________________________________________________________________
Die trein arriveer binne 5min. Sy kyk na hierdie man voor haar. Die man met sy eerlike liefde. Hoe gaan sy van hom afskeid neem? Maar sy moet. Haar pa het haar nodig. Nou is nie die tyd vir haar om haarself te verloor in die plesiertjies van die lewe nie en hulle gaan tog vir mekaar skryf tot tyd en wyl…hoe lank dit ook al mag vat.
“Hier.” Hy druk iets in haar hand.
“No puedo. Dis joune.” Fluister sy.
“Nee. Ek wil hê jy moet vir altyd jou skoonheid deur my oë sien en onthou dat jy my in daardie oomblik die rykste man op aarde gemaak het. Hou vas daaraan tot …eendag”
Die trein fluit. Dis tyd. Hulle altwee staan op, hy gooi sy knapsak oor sy skouer en hulle loop hand aan hand na die perron. In die ander hand klou sy verbete aan haar geskenk vas.
Edward neem Catalina se gesig in sy hande. Hy vryf liggies met sy duim oor haar onderlip. Hy buk vorentoe tot sy lippe saggies teen haar oor rus.
“Te Amo.”
Sy vou haar hande om syne wat steeds haar gesig vashou en staan net so, vir ‘n rukkie, met haar oë toe, want die waarheid is te moeilik om in die gesig te staar.
“Yo Tambien te amo.” Sy maak haar oë oop, soen sy voorkop en elke wang tot sy vir ‘n laaste keer by sy sterk lippe eindig. Dan draai sy vlugtig op haar hakke om en kies koers oor die twee stelle treinspore vallei se kant toe.
Met die smaak en reuk van appels en wyn wat aan sy hele lyf en wese klou, klim Edward op die trein. Terwyl hy by die ruit uitkyk sien hy die wit rok wat stadig een word met die lang wit heuwels van die Ebro. ‘n Geskenk waarvoor hy hart en siel betaal het, maar nooit die waarde van sal ken nie.
__________________________________________________________________________________
Toe die trein 2 minute later agter haar in die verte fluit lig Catalina stadig haar hand en kyk vir die eerste keer na haar geskenk.
Die foto van haar. Daardie dag in die boord. Die een van haar naakte lyf so tussen die appelbome, haar bruin vel wat met die heuwels in die agtergrond saamsmelt, haar wilde hare om haar gesig wat blink van die vars vogtigheid van liefdemaak. Sy draai dit om. Agterop, in ‘n netjiese handskrif, verskyn die woorde:
“Tot Eendag, Mi Amor. 1938.”
Comments