Jy moes groet...
- diedromer
- May 24, 2019
- 5 min read
Dit het ‘n geruime tyd gevat om hierdie verhaal te deel. Ek het soms gesukkel om die regte woorde bymekaar te skraap, maar ek het geweet op die regte dag en regte tyd sal die woorde kom sonder keer.
Drome verklap ons diepste begeertes. Drome wys ons diepste vrese. Maar soms, as jy gelukkig is, bring dit ook genesing.
(1988-2006)

Die Isuzu bakkie het ruk-ruk gedreun buite ‘n onbekende huis in ‘n onbekende dorp, in ‘n onbekende land.
“Jou ma het gebel. Hy het dit nie gemaak nie. Ek is jammer,” kom die gespanne stem van die onbekende tannie wat voor my in die bakkie sit.
My vriendin raak aan my been. Ek is skielik buite die bakkie. Ek kan nie asemhaal nie. Arms omvou my. Die sypaadjie, saam met ‘n onkeerbare huil, omhels my.
Ek en W het van kleins af ‘n stormagtige verhouding gehad. Ek dink baie keer dis omdat ons so dieselfde was. Ek dink ons kon stukkies van onsself in mekaar raaksien. Of miskien was hy net ongelooflik irriterend en ‘n klein skarmunkel van ‘n kind, maar ten spyte daarvan het ‘n mens altyd ‘n liefde in jou hart vir die weskusklonkie rondgedra. Die seun met die lewensgroot glimlag en grappies wat nooit ophou nie.
W was baie lief daarvoor om my te tart. Ek kon so ongelooflik kwaad raak vir hom, want as klein dogtertjie het ek nie werklik die intensie agter die “terg” verstaan nie. My ma het my dan altyd probeer kalmeer en gesê: “Dis maar net sy manier van liefde soek, Inge.”
Dít het my sommer meer as W geirriteer! Ek soek ook mos liefde, Mamma! En dis mos nie hoe ‘n mens jou liefde wys nie, Mamma!
Eers jare later sou ek, toe dit byna te laat was, die betekenis agter my ma se woorde verstaan.
Ten spyte van W se tergery was hy soos ‘n ouer boetie vir my. Sy ouers was geskei en hy het altyd Desembers by ons op die plaas kom kuier. Sy pa is my ma se broer en ons het hom altyd saam met vakansie geneem dat hulle mekaar kon sien.
Al het ek nooit dit hardop gesê nie, was daardie kuiers die beste ooit! Dit was lekker om sy lag in ons huis te hê. Dit was lekker om sy drukkies te ontvang en soos ons ouer geword het, ook sy raad as dit kom by die manlike geslag.
“Onthou nou nig. Luister mooi! ‘n Mens loop nooit voor ‘n groep ouens nie, want hulle kyk altyd jou ass.” Net een van die vele stukkies “goue advies” wat ek deur die jare ontvang het. Hy het werklik ‘n way with words gehad.
Ja, W se liefde was oorvloedig en sy glimlag gereeld, maar as kind kon ek nooit die pyn agter die glimlag raaksien nie. Hy was maar net ‘n klein seuntjie wat konstant ‘n groot seer soos ‘n swaar rugsak saam met hom gedra het. Partykeer wens ek dat ek tyd kon terugdraai en vroeër begrip vir sy situasie kon ontwikkel. Ek wens ek was oud genoeg om te kon verstaan waar sy benadering tot die lewe vandaan kom.
Maar ek het nie verstaan nie. Ek was te klein. Daar was te min tyd. Al wat ek het om aan vas te hou is my ouma se woorde na een van ons vele onderonsies: “Inge, hy terg jou omdat hy oneindig lief is vir jou.”
Hy wás lief vir my. Hy was lief vir ons familie. En omdat hy so met die konsep van liefde gesukkel het, het hy dit gewys op vreemde maniere. Maniere wat vandag in almal se harte onthou word as goue herrineringe wat jou soms om ‘n vuur liggies laat lag tot die seer dit weer wegbêre.
Die nuus van sy dood het my bereik in ‘n Isuzu bakkie voor ‘n vreemde huis in Mariental, Namibië. ‘n Vriendin se ma moes met ons eerste ontmoeting my kinderlike hart in stukkies breek. Tot vandag toe wil ek vir die tannie jammer sê dat so ‘n onus op haar skouers moes rus. Dit kon nie maklik wees om ‘n kind, wat eintlik ‘n vreemdeling is, se lewensvreugde binne ‘n oomblik weg te neem nie.
Op 18 was jy weg. Te gou. Met ‘n glimlag wat nog gereed was om so baie dinge in hierdie wêreld te verander. Die dokter het gesê jy wou so graag lewe, jy was ‘n vegter, maar soms rus die besluit nie by ons nie.
Ek het oornag die Intercape teruggevat Clanwilliam toe, in die bakkie by ons huis geklim en die hele pad Heidelberg toe omgehuil. Soos familielede mekaar vir die eerste keer na die tyding sien en omhels, het vars trane geval. Ons het aangetrek vir die begrafnis. Ons het in swart en smart die kerk binnegestap. Ek het jong 18 jarige seuns sien huil soos kinders. Ons het die Oorwinningslied gesing. Ons het roosblare op jou kis gegooi. En toe was dit verby…in ‘n oogwink…jou hele lewe…weg…in ‘n oogwink.
Na jou dood was die lewe nie heeltemal dieselfde nie. ‘n Mens verloor mos maar jou kinderlike onskuld as jy die dood vir die eerste keer ontmoet. Jou glimlag raak ‘n bietjie kleiner. Jou kommer raak ‘n bietjie meer. Jou hart stop elke keer wanneer ‘n telefoon op ‘n ongereelde tyd lui, maar meeste van alles hou die vrae en die “wat as?” nooit op nie. Wat as hy nog hier was? Wat as ek meer liefde gewys het? Wat as ons minder baklei het? Wat as ons meer tyd vir mekaar gemaak het? Wat as ek vir jou gesê het hoe lief ek jou het en hoe spesiaal en belangrik jy vir my was? Wat as ek verewig ‘n stukkie gemis in my ronddra?
Een aand, in 2007, ‘n jaar na jou dood, het die slaap my en my klam kussing kom haal en daar bevind ek myself op my bed in my kamer op die plaas. In my droom sit ek op my bed en wag, maar ek weet nie werklik vir wat nie. ‘n Lig het in my deur geskyn en skielik loop jy in met daardie ou bekende glimlag.
“Wat maak jy hier, W?”
My hart klop teen ‘n taamlike spoed soos jy nader stap. Ek voel jou teenwoordigheid. Jy kom sit langs my op die bed. Dis so werklik.
“Hallo, my nig!”
Daardie woorde. So bekend. Ek begin huil. Trane stroom oor my wange. Ek druk jou. Jy vóél so werklik.
“W? W, het jy ons gehoor? Het jy gehoor wat ons by jou begrafnis gesê het? Het jy gehoor hoe lief ons vir jou is?” val die histerie by my mond uit.
“Het jy alles gehoor?” sê ek terwyl ek huil in jou arms. Jy stoot my liggies weg. Jy glimlag.
“Inge, ek het elke liewe woord gehoor.”
Jy het opgestaan. Jy het uitgestap. Ek het wakker geword. Ek het geglimlag. My hart was lig. Ek was rustig.
Dit was die laaste droom wat ek ooit oor W gehad het. Ons heel laaste reis saam. Ons afskeid, want hy moes groet. Hy moes gaan om ‘n ogie oor ons te hou en te lag vir al die poetse wat die lewe nog op ons gaan bak.
Ek is so dankbaar dat jou siel vir ‘n kort rukkie aan ons geleen was.
Rus in Vrede Neef, Broer, Weskusklong.
Comments